Skoenlapper

Liewe mooie skoenlapper
met jou bonte vlerke
jy is vir my beslis
een van God se meesterwerke

Liewe kleine skoenlapper
jy vlieg so vlug
van blom na blom
en dan weer terug

Liewe bonte skoenlapper
was ek ‘n blom
dan was jy beslis
by my altyd welkom

Standaard

Die digter sy dood

As die digter gesterf het
dan huil al sy vriende
saam met al sy vriendinne
traan vir traan

As die digter gesterf het
dan treur heel die wêreld
om die dood van die digter
hulle is so aangedaan

As die digter gesterf het
dan word hy begrawe
êrens in ‘n groot veld
waarin gerwe staan

Dis hoekom as dit waai
ons die digter se woorde
in die ruisende gerwe hoor
as ons hierdie velde verbygaan

Standaard

Jou liefdesgedig

Ek skryf ‘n liefdesvers
met spookasempienk
met jakarandablommetjiespers

Met silwer maanskyn
met alle sterre
groot en klein

Met goud sonlig
skryf ek vir jou
‘n romanties liefdesgedig

Met heuninggeel
of watter rëenboogkleur
jy maar wil

Byvoorbeeld koringblomblou
om jou te sê
ek is lief vir jou

Standaard